Category Archives: Bybel

Om wyd te dink oor God se kinders

Hierdie briefie lê al jare op my rekenaar. Ek het dit vir ‘n ouderling geskryf (soos duidelik word), maar eintlik vir myself geskryf, om my eie gedagtes te orden. Dit is nooit vir die ouderling gegee nie, en ek dink ons kom heel goed oor die weg, selfs al verskil ons. Dit was nie bedoel vir ‘n publieke gehoor nie, maar siende dat ons storms opjaag oor dominees wat (heel Bybels) aandring dat God se kinders veel meer insluit as net die wat soos ek glo, sit ek dit hier. Ek sou dit waarskynlik wou sanitize voor ek publiseer – ek sou ‘n klomp voetnote wou invoeg oor die moeilike gender vrae wat die beeld van God as vader oopmaak, en ek sou definitief iets van die broosheid van wat in predikante se gemoed omgaan wanneer hulle selfs sinneloos van dwaalleer beskuldig word wou uithaal. Maar dalk is dit goed dat dit maar staan soos dit in privaatheid geskryf was.

Eerstens wil ek vir jou dankie sê dat jy my dwing om meer genuanseers te praat. Die vraag oor hoe ons oor God as Vader en ons as kinders van God praat kan inderdaad op verskillende maniere gelees word, en ek wil graag meer duidelik werk met hierdie metafore. Ek kan egter nie vir jou dankie sê dat jy die ontmoeting tussen ‘n predikant en die kerkraad na ‘n erediens gebruik om publiek te verklaar dat my preek elemente bevat wat in stryd is met die Bybel nie. Eerstens omdat ek dink dat die Bybelse tradisie meer kompleks is as wat dit by hierdie geleentheid gemaak is, en tweedens omdat ek dink die implikasies van so ‘n uitspraak so swaar is, dat ons dit met baie groter versigtigheid moet maak.

Maar kom ek begin by die begin. Die sin waarna jy verwys het was

“Die gevaar is dat ons oortuiging dat alle mense kinders van God is ons kan oortuig dat die wat nie inpas by ons prentjie van wie kinders van God is nie in ons oë nie meer mense is nie.”

Dit is die enigste plek waar ek die metafoor “kinders van God” in die preek gebruik het. Jy het my na Johannes 1:12 (“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word”) en Romeine 8:15 (“julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader”) verwys en aangedring dat ons nie kan sê dat “almal kinders van God” is nie, dat dit slegs gelowiges is oor wie dit gesê kan word. My reaksie was om na die eerste artikel van die Apostolicum te verwys, waar God as Vader en God as Skepper ten nouste met mekaar verbind word, en op grond daarvan te sê dat ons in ons gesprek oor verlossing nie by die sondeval nie, maar by die skepping moet begin, en eers moet raaksien dat ons almal deur God en in die beeld van God geskape is, en dat God op grond daarvan vir almal ‘n vader is.

Dalk net eers ‘n verwysing na die liturgie waarbinne hierdie preek gevind word. Ek probeer om die liturgie en die preek saam te skryf, en in sekere gevalle, soos met hierdie preek, die liturgie ook in te bed binne die breër teks waaruit ons lees, in hierdie geval die brief aan die gemeente in Efese.

Die seëngroet het begin met “ek groet julle in die naam van God die Vader van almal, Hy wat oor almal en deur almal en in almal is”. Hierdie is ‘n aanhaling uit Efesiërs 4:6. As deel van die liturgie het ons die tradisie om ook klem te lê op hoe ons moet leef, dit word partymaal die “wet” genoem. Die voorlesing vir die “wet” was op hierdie Sondag uit Efesiërs 4:1-6, wat weereens dieselfde teksgedeelte insluit. Nou sou ons uiteraard ‘n lang eksegetiese gesprek kon voer oor waarna die “almal” van Efesiërs 4:6 verwys, maar die moontlikheid dat hier ‘n meer universele betekenis is moet ten minste gehoor word. Die woord wat as “almal” vertaal word is immers dieselfde woord beide wanneer daar na “Vader van almal” verwys word, en ook wanneer daar na “oor almal en deur almal” verwys word. Die skriflesing wat vandag aan die orde was moet ons alreeds versigtig maak om ‘n meer universele lees van God se vaderskap as teen die Bybel te beskryf.

Gewoonlik dink ons oor God as Vader as deel van ons verstaan van die Triniteit, die Vader is dan die Vader van Jesus Christus. Maar dit is nie die enigste manier hoe die metafoor van God as Vader in die Bybel gebruik word nie. Dink maar aan Maleagi 2:10: “Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep”. Nie net word God hier as ‘n Vader beskryf sonder enige moontlik verwysing na Jesus Christus nie, God is die die Vader in die algemeen, nie net die Vader van Jesus Christus nie, maar die Vader en skepper word in die parralelisme aanmekaar verbind.

Hierdie verbintenis sien ons dalk veral in die lang tradisie waarin God as Vader die een is wat die skepping versorg. ‘n Onlangse voorbeeld daarvan is bevoorbeeld te vind in die NG Kerk se onlangse poging om ‘n eietydse verklaring van die Apostolicum te skryf, waar die eerste deel van die eerste artikel (“Ek glo in God die Vader”) grotendeels gewy word daaraan om uit te bry op die maniere waarop God vir die skepping sorg.

Die baie bekende teksgedeelte in Matteus 5:44-45 dwing ons om twee vrae te vra:

“Maar ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers”.

Ek sou met ‘n eerste lees hiervan myself alreeds kon afvra of ek self dan ‘n kind van God is. Om “kind van God” te wees word aan die een kan hier ‘n bykans onbereikbare identiteit gemaak. As my kindskap afhang nie van my geloof of deelwees van die geloofsgemeenskap nie, maar van my liefde vir vyande (of as ons Matteus 5:48 lees, afhang daarvan dat ek volmaak is), dan dink ek nie ek slaag die toets nie. Natuurlik is dit nie die enigste verwysing na God se Vaderskap of ons kindskap nie, maar dieselfde sou nou gesê kon word vir elke enkele vers wat aangehaal word.

Maar as ons die teks stadiger lees dan is daar meer daar agter. God, wat in hierdie teksgedeelte beskryf word as “julle Vader in die hemele”, is die een wat almal versorg. Is dit dan verregaande om te sê dat God die Vader van almal is, die goeies en die slegtes? Die wat optree soos kinders van God sou optree (deur hulle vyande lief te hê) en die wat dit nie doen nie?

Of dalk ‘n laaste verwysing na die Bybel. Lukas 15 bevat waarskynlik die mees bekende gelykenis, die gelykenis van die verlore Seun. Hierdie gelykenis probeer juis die vraag oor of ons God se kinders bly as ons nie meer soos God se kinders leef nie aanspreek, beide in die vader se reaksie op die jongste, maar ook die oudste seun. ‘n Lang bespreking van die teks is onnodig. Die seun gee sy kindskap op, maar die vader hou aan om aan hom te dink as sy kind.

So waarheen neem dit ons? Ek is baie versigtig om iets soos ‘n “Bybelse perspektief”, ‘n “Bybelse teologie” van “God as Vader” te probeer skryf. Ek dink die beeld van God as Vader word op verskillende maniere gebruik. Dit is ongetwyfeld waar dat God die Vader is van gelowiges (Christene) en dat daar op verskillende plekke verwys word daarna dat ons kinders van God word wanneer ons volgelinge van Jesus word. Maar God is ook die Vader van die skepping, van alles en almal. Dalk is dit verskillende maniere om die beeld van God as Vader te gebruik. Dalk moet ons nie te hard probeer om dit met mekaar te versoen nie.

Teologie werk nie so dat daar ‘n enkele dogma is wat perfek in preke omgesit moet word nie. Taal oor God is metafore, preektaal is metaforiese taal. Ons het nog nie een maal gepraat oor wat die boodskap van die preek was, oor hoe ek die beeld “kinders van God” gebruik het in hierdie preek, oor wat die oorsprong was van hierdie metafoor en oor hoe dit binne die breë stroom van die Christelike geloof pas nie. Want jy sien, dit is hoe ek die Christelike tradisie sien, nie as ‘n dun paadjie met een korrekte roete waarop ek myself mooi moet balanseer nie, maar as ‘n breë tradisie, ‘n koor van stemme, waar ons op verskillende manier op verskillende tye en plekke woorde gee aan ons geloof. Ek dink dus nie vir een oomblik dat jy verkeerd is nie, ek dink net daar is meer. Ek ontken nie vir een oomblik die stemme wat sing dat die wat glo kinders van God word nie, maar ek dink dat in hierdie koor word daar ook anders gesing oor God as Vader, God wat alles en almal versorg.

Snaaks genoeg is hierdie beeld van “almal is kinders van God” nie een wat algemeen in my preke voorkom nie. Dit weet jy natuurlik, anders sou jy my seker al maande terug beskuldig het. Heel moontlik sal ek in die toekoms beter dink daaroor wanneer ek hierdie beeld gebruik, dit dalk probeer kwalifiseer, daarmee help sulke beskuldigings immers. Maar die kans is goed dat ek weer uit ‘n teks sal preek (soos Efesiërs 4:6) wat my verlei om oor God as die Vader van almal, oor almal as God se kinders, te praat. Hopelik sal jy dit dan hoor as een van baie maniere waarop ons met hierdie ryk metafoor kan omgaan in ons Christelike omgewing.

O, en volgende keer, kom gesels met my oor ‘n preek, soos wat dit enige lidmaat vrystaan om te doen, maar as jy die toesighoudende ruimte gebruik, daai ontmoeting in die konsistorie waar ouderlinge, hulle wat toesig hou oor die prediking die predikant ontmoet, dan verander dit van ‘n gemoedelike gesprek tussen predikant en lidmaat na ‘n dreigende ruimte waar die kerkraad moet oorweeg of ek nog bevoeg is om te preek. Natuurlik is die kerkraad vry om dit te oorweeg, maar moenie die erns van so ‘n keuse ooit onderskat nie.

Groete

Cobus

Advertisements

Belhar en die Bybel – ‘n lyn in die sand

So hier is wat my kry oor hierdie Belhar gesprek: dat daar mense is wat regtig verwag dat ons weer ‘n keer moet verduidelik dat Belhar teologies OK is, dat Belhar in lyn met die Bybel is. So asof dit nou een of ander nuwe insig is dat die Belydenis van Belhar “in ooreenstemming met die Woord van God” is. Net so verlammend is die tegniek om te vra dat die NG Kerk tog nou eers weer ‘n keer ‘n kommissie moet aanstel om te gaan navorsing doen oor Belhar, met harde woorde soos:

“Dit is skokkend dat selfs die Algemene Sinode nog geen teologiese studie van Belhar gedoen het nie. Nie een enkele van die besluite wat tot dusver oor Belhar geneem is, is geneem op grond van ‘n objektiewe evaluering voor die Sinode nie.”

Of:

“… skryf: “Die Algemene Sinode het immers al jare gelede besluit dat die inhoud en strekking van Belhar met die Bybel ooreenstem en só word di took in die voorgestelde nuwe artikel 1 van die Kerkorde verwoord.” Ja, dit is blykbaar wat die Sinode besluit het, maar dis besluit sonder enige studiestuk wat amptelik aan die Sinode voorgelê is.”

Nou wil dit vir my voorkom of hierdie uitsprake tegnies waar is. Maar die tegniese rus op goed soos “objektiewe evaluering voor die Sinode” en “amptelik aan die Sinode voorgelê”. Ja, jy nie so ‘n evaluering in die agenda of handelinge van ‘n Algemene Sinode sal vind nie, maar dit beteken nie dat dit nie bestaan nie, en die verwysings daarna is wel mooi duidelik in die agenda. So hier is hoe ek die storie lees.

In 1982 word Belhar opgestel en die Algemene Sinode sê:

* “Die Algemene Sinode het kennis geneem van die amptelike skrywe van die NG Sendingkerk, maar was tydens hierdie sitting nie in ‘n posisie om ‘n diepgaande studie daarvan te maak nie

dra dit aan die Breë Moderatuur op om die stukke van die NG Sendingkerk te bestudeer en onverwyld met die NG sendingkerk hieroor in gesprek te tree.”

En dan later

“Die Sinode het met groot smart verneem dat ‘n belydenisstuk as uitvloeisel van ‘n Status Confessiones as in “konflik” teenoor die Ned Geref Kerk en gelykstaande met ons ander belydenisskrifte, in die lig gestuur is.”

1986 kom en daar word besluit:

“1.3.2  die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake en die Algemene Regskommissie ontvang die opdrag om in die lig van die” Antwoord van die Breë Moderatuur aan die NGSK oor die Konsepbelydenis” (Agenda 1 986 pt 2.1.3.1.6 op bl 22) asook ander tersaaklike stukke soos bv die studiestuk van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in SA, Agenda beskrywingspunt B4.5 (op bl 452) die nuwe “Kerk en Samelewing” en alle besluite van die NGSK Sinode, asook die Acta van die Algemene Sinode 1982, wat ons verhoudinge raak die Belharbelydenis te beoordeel en ‘n verslag aan die Breë Moderatuur voor te lê.

Die Breë Moderatuur ontvang opdrag om in die lig van 1.3.2 hierbo na bevind van sake te handel. Die Sinode dra dit aan die Breë Moderatuur (Algemene Sinodale Kommissie) op om so spoedig moontlik die beoogde samesprekings en onderhandelings aan te knop en by die eersvolgende Sinode verslag te doen”

As ek dit reg lees, was die studiestuk van AKLAS toe nooit terug na die Algemene Sinode toe nie, omdat die opdrag was dat die studiestuk na die ASK toe moet gaan, en die ASK die opdrag kry om verslag te doen, nie AKLAS nie (jammer vir al die afkortings). Punt is egter, hierdie studiestuk is opgestel, en dit het voor die ASK gedien, en dit kan nou afgelaai word. As ons die Algemene Sinode se integriteit hier in twyfel gaan trek, asof daar nie ernstig oor besluite gedink was nie, dan kan ons werklik maar min dinge vertrou wat uit ons tradisie kom.

Daar is baie mooi goed hierin (soos die deel oor belydenis wat soos hoes is), en ook goed waarmee van ons dalk vandag sal verskil (soos die evaluasie van Kairos), maar hier is die punt wat belangrik is:

“Sonder vrees vir teenspraak kan gese word dat die positiewe uitsprake van die BB in ooreenstemming met die Skrif en die gereformeerde belydenis is en daarom deur die NGK onderskryf kan word.”

Oor die manier waarop Belhar die implikasie van die belydenis verwoord is daar ‘n stuk ongemak, maar die ongemak lê hoofsaaklik daarin dat die studiestuk wil uitwys dat na Kerk en Samelewing kan die kritiek van Belhar nie meer so eenvoudig op die NG Kerk van toepassing gemaak word nie. Maar die NG Kerk se eie studiestuk erken dat die teologie waarmee die NG Kerk in die verlede gewerk het verkeerd was (daar bly tog iets mooi, iets kerkliks, daarin dat die NG Kerk kan erken dat ons droog gemaak het).

In 1990 lees ons van hierdie verslag:

“Nadat AKLAS ‘n stuk op 2/9/88 aan die ASK voorgelê het, en nadat al die lede hulle kommentaar daarop kon lewer, het die ASK besluit om soos volg by die Algemene Sinode aan te beveel as beleidstandpunt oor hierdie saak:”

en direk daarna

“5. Die ASK oordeel dat die Belharbelydenis op sigself genome nie met die drie Formuliere van Eenheid in stryd is nie en dat dit nie verwydering tussen kerke hoef te bring nie.

8. Die ASK oordeel dat bepaalde uitsprake anders geformuleer kon gewees het, oa par 4 van die Belharbelydenis en dat die uiteensetting van “Kerk en Samelewing” oor die Here as God van “die arme en verontregte” , die Bybelse uitsprake in die verband suiwerder stel (vgl par 143-151 van Kerk en Samelewing).”

So daar is navorsing gedoen, daar was ‘n proses gewees, en Belhar is aanvaar as in lyn met die leer van die kerk, al is daar nog in 1990 gevoel dat Kerk en Samelewing op sekere punte ‘n beter formulering sou wees, en meer nog, dat dit belangrik is om dit uit te wys.

Dit bring ons by 1998, waar die sinode weer sê:

“Die Algemene Sinode aanvaar dat die Belydenis van Belhar op sigself genome nie met die Drie Formuliere van Eenheid in stryd is nie.”

Daar kom dan ‘n amendement in wat die voorstel wou wysig om by te voeg

“alhoewel die kerk oordeel dat bepaalde sake anders geformuleer kon gewees het”

Hierdie amendement word verwerp, wat dus ‘n klein skuif weg is van die besluit van 1990, of dalk het ons net intussen geleer dat daar verskillende maniere is om goed te verwoord, en dat ons nie altyd die een teen die ander hoef op te weeg nie.

Daar is natuurlik ander dinge waaroor ons meer verskil. As jy deur die geskiedenis lees is die stem dat Belhar nie ‘n belydenisskrif behoort te wees nie altyd baie duidelik. Maar, die NG Kerk het nog altyd duidelik en ondubbelsinnig gesê dat daar geen teologiese probleem met Belhar is nie en dat Belhar in lyn met “die drie Formuliere van Eenheid” is (wat seker veronderstel dat dit in lyn met die Bybel ook is, soos wat die studiestuk duidelik maak).

So hier is my punt dan nou weer: verwag ons dan nou nogsteeds dat ‘n predikant van die NG Kerk haar/homself moet verdedig omdat ons ‘n standpunt inneem wat bloot in lyn met 25 jaar se besluite van die NG Kerk is? As ek as predikant van die NG Kerk bloot sê dat ek dink Belhar is teologies in lyn met die Bybel en met ons Gereformeerde tradisie, dan het ek mos nie nodig om myself te verdedig nie? Die teendeel moet mos eintlik eerder waar wees.

Die punt is nie dat alles wat die kerk ooit sê slaafs en kritiekloos aanvaar moet word nie. Dit was nog nooit hoe ek oor die kerk gedink het nie. Maar om dele van die kerk van dwaalleer te beskuldig (ook indirek, deur iets wat as ‘n belydenis beskryf word deur party as dwaalleer te beskryf) is ‘n ernstige aanklag. Dalk het ons al vergeet hoe ernstig dit is. Die oomblik wanneer ons mekaar van dwaalleer begin beskuldig, dan word ‘n gesprek waarin ons na mekaar luister bykans onmoontlik. Dit alleen moet ons uiters versigtig maak om in ‘n tyd waarin ons na mekaar moet luister oor dwaalleer te praat. Die feit dat die NG Kerk vir 25 jaar lank by herhaling Belhar as in lyn met die Bybel en ons tradisie beskryf het behoort hierdie grens in ons gesprek nog ‘n bietjie meer ernstig op te neem. ‘Dit is natuurlik nie ‘n harde grens nie, dit kan maklik oorgesteek word. Ek weet dat daar steeds stemme gaan opgaan wat wil aandring dat, anders as wat ons nog altyd sê, Belhar dwaalleer bevat.

Die gesprek waarvoor ek ruimte wil maak lê egter duskant hierdie grens. Dis ‘n gesprek wat gaan oor hoe ons oor belydenisse dink, hoe ons oor belydenisvorming dink en oor wat ons dink dit beteken wanneer Gereformeerdes belydenisse onderskryf. En hier dink ek kan ons maar ruimte hê om van mekaar te verskil. As ons met mekaar kan ooreenkom dat ons mekaar se belydenisse as in lyn met die Bybel beskou, dan kan ons maar verskil oor of ons dit as ‘n belydenis onderskryf.

So kan ons nie maar net ooreenkom om hier ‘n lyn in die sand te trek nie: oor Belhar as belydenisskrif kan ons verskil, maar ons bevestig in ons gesprek met mekaar dat Belhar in lyn met die Bybel is, soos ons nog altyd doen.

* Daar was ‘n fout in die oorspronklike weergawe van hierdie blogpost. Die eerste besluit wat nou korrek as ‘n besluit van 1982 se Algemene Sinode aangedui was, was oorspronklik verkeerdelik as ‘n besluit van 1986 se Algemene Sinode beskryf. Vir deursigtigheid kan die oorspronklike weergawe hier gelees word. Dit verander egter niks aan die argument nie.


Sê Belhar iets wat nuut is?

Een van die argumente wat redelik algemeen is, is dat Belhar “niks nuuts sê nie”. Party gebruik is in verdediging van die aanvaarding van Belhar as belydenisskrif, “Belhar sê wat die drie formuliere van eenheid en die Bybel self sê, dus is daar geen rede waarom ons nie Belhar moet aanvaar nie”, en ander as motivering om Belhar nie as belydenisskrif te aanvaar nie, “Belhar sê elkgeval net wat die drie formuliere van eenheid reeds sê, so waarom moet ons dit nou ook aanvaar?”.

Maar ek dink dis problematies om te sê Belhar sê niks nuut nie.

Natuurlik, ons is al hoeveel maal daardeur: Belhar is inderdaad “Bybels” (‘n opmerking wat ek dink uiters problematies kan wees, maar goed) en ook binne die Gereformeerde tradisie. Maar sê dit iets nuuts?

Belydenisskrifte kies as gevolg van die konteks waarbinne dit ontstaan het om aan sekere aspekte van die tradisie te beklemtoon. Dit sê nie daardeur dat ander aspekte verkeerd is nie, bloot dat in hierdie tyd, op hierdie plek, is dit die aspekte van ons geloof wat ons dink in die hart van Christen wees behoort te wees (soos ek reeds genoem het, ek dink belydenisskrifte praat oor wat ons glo ons moet word).

Belhar praat oor eenheid, versoening en geregtigheid spesifiek, en plaas dit binne die raam van die Drie-enige God en Jesus as Heer. Dit kies spesifiek teen die idee dat ons lewe saam met ander minder belangriker is as ons lewe saam met God. Nou kan ons sê dat dit nie nuut is nie, dit is immers die twee dele van die liefdesgebod, en ons kan die idee dat ons lewe saam met ander net so belangrik soos ons lewe saam met God is immers terugvat na die vroegste tradisie oor Jesus toe.

Maar kom ons wees eerlik, daar bestaan vir eeue reeds ‘n sterk lyn wat die “etiese” ‘n as van minder belang vir geloof ag. Party sal steeds daarvoor argumenteer. Die etiese word ‘n “nice extra”. Dit was die teologie van ons sondagskole en jeugaksies. Dit was die teologie van die kerk waarvan ek my lewe lank al deel is.

In reaksie op so ‘n teologie is Belhar “nuut”. Nuut soos wat die Reformasie oor sekere goed “nuut” was (in die sin dat dit elemente van die tradisie weer in herinnering geroep het). Belhar praat dis vir ons nuut. Dit praat nuur deur eenheid, versoening en geregtigheid, aspekte wat nog altyd op papier vir die kerk belangrik was, so te verwoord dat ons nie langer kan voortgaan met ‘n spirituele geloofslewe wat hierdie sake as “nice extras” sien nie.


Sal ons Lukas 4 weer saam met Bosch lees?

Die sinode is geopen met ‘n lees van Lukas 4:16-32. Die kort preek was maar oor hoe ons teologies moet besin oor wat Jesus gesê het, en dit nie net moet vergeestelik of net moet verletterlik nie, en die vraag gevra of ons hoor wat Jesus sê, of wat ons wil hoor. Of something soos dit.

David Bosch het ongelooflik baie oor Lukas 4 geskryf. As jy net kyk na wat gewig kry (p108-113 van Transforming Mission), dan is hierdie perikoop in Lukas vir Bosch ongelooflik belangrik. Om dit in perspektief te plaas, hy skryf net so veel oor Lukas 4 as wat hy oor die Missio Dei skryf. Dit is natuurlik deels omdat hy moet verduidelik presies hoe hy hierdie perikoop lees. Maar ook omdat die idee dat God se wraak weggeneem word sentraal staan aan Bosch se missiologie.

Maar dit is gelaaide woorde om hierdie sinode mee oop te maak. Alhoewel ek dink dit die woorde is wat ons moet hoor in hierdie tyd. Dat God nie die een is wat die straf oor ons vyande bring nie, maar wat genade gee. Maar meer nog, die manier hoe Jesus sy eie mense kom uitdaag met stories dat God gekies het vir ‘n weduwee in Sarfat. En dan natuurlik die “vrylating” kern van die teks. Belhar se vraag wat voor ons lê is vir my veral of ons ‘n teologiese skuif sal maak om ons refleksie op Suid Afrika te grond in die ervaring van hulle wat aan die onderkant van die samelewing is. Lukas 4 sê ons mag nie anders doen nie.

Sal interessant wees as ons Lukas 4 op ‘n verskeie punte in hierdie vergadering weer bespreek, en vra of dit waarmee ons besig is in die tradisie van Lukas 4 inpas…