#NGKerk, vertroue, integriteit en oortuiging

Ek was ‘n 5de-jaar student in 2007 gewees. My taak by die algemene sinode was om papiere uit te deel en stemme te tel. En in ruil daarvoor kon ek inluister op die gesprekke en die prosesse van ‘n Algemene Sinode beleef. Ek onthou hoe ek vooraf vir ‘n vriendin gesê het dat ek geen manier kan sien waarop ons deur hierdie sinode kan kom sonder dat die kerk skeur nie. Dit is 8 jaar later, die kerk is hopelik bietjie wyser, en ek hopelik ook. Ek het leer vertrou dat die NG kerk nie so maklik skeur nie. Dat ons maniere vind om mekaar vas te hou as verskil ons baie baie diep.

In 2007 het ons baie gepraat daaroor om mekaar se integriteit te vertrou. Dis ‘n vreemde idee in ‘n kerklike gesprek. Of ten minste, dit was vir my. Wat beteken dit om mekaar se integriteit te vertrou? Ek dink dit beteken dat ons vashou daaraan dat ander gelowiges van wie ek diep verskil met net soveel erns as ek die Bybel lees, met net soveel erns as ek na die wil van God soek, en met net soveel erns as ek ‘n lewe in navolging van Jesus wil leef.

En ons verskil vandag baie baie diep. Ander kerke het wel geskeur oor selfdegeslagverhoudings. Ons gaan nie. Maar ons gaan mekaar se integriteit moet vertrou. Dit beteken nie ons gaan saamstem nie. Dit beteken nie eens dat ons oor tyd meer gaan saamstem nie, alhoewel ons altyd in die hoop leef dat as ons in verhouding met mekaar leef, dat ons aan mekaar aanhou vorm en slyp, dat ons oor tyd nader aan mekaar sal beweeg.

Ek het lank terug tot ‘n oortuiging gekom oor selfdegeslagverhoudings. Hoe ek daar gekom het is nou nie ter sprake nie, maar ek dink dit is belangrik om te sê dat ons teologie altyd deur ‘n verskeidenheid van faktore gevorm word. Verhoudings. Wetenskaplike inligting. Blootstelling aan die wye protestantse tradisie en die moontlikhede wat dit vir my oopmaak. En ‘n worsteling met die Bybel. Op verskillende tye en verskillende maniere, en nie in die volgorde wat ek dit noem nie, het hierdie verskillende faktore my oortuiging oor die wil van God en wat dit beteken om hier en nou my naaste lief te hê gevorm.

Maar ek moet vandag vashou daaraan dat dit moontlik is om met integriteit tot ‘n ander oortuiging te kom. Dalk sal daar ‘n dag kom wat ek moet sê dat dit tog onmoontlik is om oor hierdie saak te verskil, maar ek kan dit nie vandag sê nie. Vandag hou ek vas aan die oortuiging dat al hoor ons die Bybel verskillend oor hoe ons vandag oor selfdegeslagverhoudings dink, het ons saam na die Bybel gaan luister, en het ook van die mense wat van my verskil met erns na die Bybel, die tradisie, die ervaring en stories van gay Christene en die moderne wetenskap gaan luister.

Maar ek kan net vashou aan die integriteit van almal as ons vashou daaraan om almal met waardigheid te behandel. Ek sien ook by mede-gelowiges dat al kan hulle nie tot die oortuiging kom dat selfdegeslagverhoudings in hulle eie teologiese paradigma regverdig kan word nie, hulle steeds mense in selfdegeslagverhoudings met waardigheid kan hanteer. Ek hoor stories van predikante wat nie oortuig is dat selfdegeslagverhoudings in lyn met die wil van God is nie, maar wat steeds oortuig is dat hulle gemeentes ruimtes moet wees waar mense in selfdegeslagverhoudings veilig kan voel – want ons kan mos maar immers in ‘n gemeente ook verskil. En verskil lidmate en predikante nie maar oor baie ander dinge nie? Net omdat ons sukkel om ‘n bepaalde etiese leefwyse teologies te regverdig beteken nie ons gemeente kan nie steeds omhelsend lewe nie. Ons kan.

Ek gaan nie lieg nie, ek droom ook van ‘n dag wat hierdie saak nie eens meer deel van ons gesprek sal wees nie. Maar vir die oomblik sal ek vashou daaraan dat mede-gelowiges, ander predikante, ander gemeentes in die NG Kerk, en ander denominasies met wie ons in verhouding is, tot ‘n ander oortuiging kan kom, en dat hulle tot hierdie oortuiging gekom het omdat hulle met alles in hulle gaan soek het na die wil van God.

Dit bring ons dalk by ‘n ander belangrike punt van hoe ons in die kerk werk. In die kerk werk ons met oortuiging. Ons hoop in die kerk is nooit dat jy bloot op ‘n sekere manier sal optree omdat jy gedwing is daartoe nie (al sal ons ook partymaal erken dat daar sekere harde reëls nodig is sodat ons mense teen hulleself en mekaar kan beskerm). Nee, in die kerk is ons hoop altyd dat jy vanuit ‘n diep oortuiging sal leef. Dat ons saam vanuit ‘n diep oortuiging sal leef van waartoe God ons geroep het, ‘n oortuiging wat gevorm is in die lewe saam met die gemeenskap van gelowiges. En as ons nie op dieselfde manier oortuig is nie? Dan leef ons saam en vorm mekaar.

Hierdie saamleef al verskil ons baie baie diep van mekaar is alreeds ‘n getuienis dat ons Jesus volg. Jesus het mense ook saamgebind al verskil hulle baie baie diep van mekaar. Dit is die storie van die kerk.


#NGKerk se Plan-B vir Suid Afrika?

Daar is natuurlik baie maniere om na hierdie week se Algemene Sinode te kyk. Verskillende vrae wat verskillende mense na die sinode toe kom, verskillende prioriteite wat vir verskillende mense belangrik is.

Maar hier is een vraag wat die week op ons tafel sit. Saterdag dan wil Solidariteit hulle “Plan-B” vir Suid Afrika launch. Rapport skryf, “ANC fokus op swart mense, ons sal fokus op Afrikaners”.

Maar vergeet van Solidariteit (indien dit moontlik is). Wat van die NG Kerk? Dis nie ons storie nie. Ons het vir die laaste 20 jaar weer en weer gesê ons gaan nie “go-it-alone” nie. Ons gaan saam met hierdie land vorentoe gaan. Ons is klaar met hierdie “Afrikaner-op-sy-eie” laertrek storie.

Ten minste, dit is wat ons sê. Dalk dwing Solidariteit ons om te vrae: waar staan ons? Gooi ons ons lot volledig in saam met hierdie land en al haar mense, of het ons nog ‘n Plan-B, ‘n idee, iewers in ons agterkoppe die idee dat ons nog as Afrikaners ons eie ding kan doen.

So dis die vraag waarmee ek hierdie week na die sinode luister. Wil ons ‘n eie Afrikaner-plan bou, of is ons lot volledig, sonder uitsondering, ingegooi saam met hierdie land. Is ons lot soveel deel van hierdie land dat ons nie anders kan as om in alles wat ons doen saam te werk om hierdie deel van die wêreld te maak werk, want as dinge hier skeef loop is daar nie ‘n plan-B vir ons nie. Dis mos wat dit beteken om geroep te wees?


Bosch, Kairos en Belhar as simbool

Die NG Kerk se sukkelende proses rondom die Belydenis van Belhar druk vandag swaar op my. Wanneer die streeksinode waarvan ek deel is bymekaarkom sal ek weer pleit dat ons die Algemene Sinode se voorstel aanvaar, ek bly oortuig dat, klein soos wat hierdie stappie is, dit die stap is wat ons moet neem. Maar die proses tot dusver maak uiterse moeilike vrae oop vir die van ons wat gehoop het dat die NG Kerk tog met ons apartheidsverlede wil breek.

Nou gaan daar natuurlik ‘n klomp mense wees wat vir my wil sê dat dit niks met apartheid uit te waai het nie (histories het die status quo van die WBGK wat tot die formulering van Belhar gelei het alles met Apartheid uit te waai) of vir my gaan vertel dat daar alleshande ander redes is waarom die voorstel van die Algemene Sinode nie aanvaar word nie (hier sal ek bloot weer herhaal wat ek oor en oor gesê het, ons het baie goeie navorsing nodig om te verstaan wat tans aan die gebeur is, niemand, ook nie ek nie, moet die stem van lidmate nou misbruik om hierdie of daardie agenda te dryf nie).

Maar tog, die tergende gevoel bly bestaan dat waar die NG Kerk oor Belhar staan iets sê oor waar ons met Apartheid staan. Daar is dalk uitsonderings, dalk plekke waar Belhar omhels word terwyl daar eintlik nog maar aan Apartheid oor vasgehou word, of waar Belhar nie aanvaar word nie terwyl Apartheid in woord en daad verwerp word, maar ek wil my verstout om te sê dat ons lyne gaan kan trek tussen waar die kerk en Belhar staan en waar ons met Apartheid staan.

Hierdie emosies het my vandag teruggeneem na ‘n lesing van David Bosch uit 1987. The Christian Church in a Revolutionary Situation. Hierdie kritiese lidmaat van die NG Kerk, wat ons tog so lief is om onsself te herriner dat hy lidmaat van die NG Kerk was en partymaal vergeet om te onthou hoe krities hy op die NG Kerk was, en steeds sou wees, se gedagtes uit 1987 is elkgeval interessant om vandag te lees. Hoe hy die politieke situasie in 1987 gelees het. Hoe hy die NG Kerk beskryf het.

Maar dis ‘n minder bekende standpunt van hom oor die Kairos dokument wat my hierdie lesing weer laat optel het.

Vir die wat in hierdie goed belangstel is dit bekend dat David Bosch nie die Kairos dokument wou onderteken nie. Baie van sy jonger kolegas was uiters teleurgestel daaroor, en Klippies Kritzinger en Willem Saayman beskryf iets van hierdie teleurstelling en oortuiging dat Bosch Kairos nie reg verstaan het nie in hulle onlangse boek oor hom. In die lesing kom Bosch self aan die woord en verduidelik sy standpunt. Maar dan maak hy ‘n opmerking wat min mense van weet:

I did not sign the Document.

Since it was first published I have, however, begun to have second thoughts about the matter. I still have not signed it but I am today closer to it than I‘ve been before. I agree with the way a colleague of He said: “I took it far too seriously as  a document and far too little seriously as a symbol”.

Jy kan die res van sy argument self lees. Sy beskrywing van homself as “naby” Kairos moet ook gesien word in hoe hy Jesus en die kerk verstaan het. Maar dis sy kolega (wie dit was weet ek nie) se opmerking wat ons moontlik vandag weer moet hoor: dat te veel van ons Belhar veels te ernstig as a dokument en glad nie ernstig genoeg as a simbool opgeneem het.

Want uiteindelik is Belhar ook ‘n simbool. Dis ‘n simbool, die diepste Gereformeerde simbool moontlik, van ‘n verwerping van rassisme en die gedwonge skeiding van mense. Dis ‘n simbool dat ons oortuig is dat die swart kerk, die kerk in Afrika, fundamenteel gaan vorm wie ons is. Dis ‘n simbool dat ons breek met ons Apartheids-verlede en onsself verbind aan hierdie land en dat ons volledig en op gelyke voet deel wil word van die kerk in hierdie land.

Goed, ek sal erken, my oorhaastige analise van die simbool is dalk net dit: oorhaastig. Ons het dalk nodig dat iemand baie fyn vir ons gaan beskryf wat presies die simboliek is van Belhar. Wat die simboliek is wat die NG Kerk en haar lidmate daaraan koppel, wat die simboliek is dat die res van die Gereformeerde familie daaraan koppel, wat die simboliek is wat die breë samelewing daaraan koppel, en wat die simboliese betekenis is wat aan die NG Kerk se aanvaarding of verwerping gekoppel word.

Wat presies die simboliek egter is, ek vermoed ons het Belhar die afgelope 18 maande gans te ernstig as ‘n dokument opgeneem en glad nie ernstig genoeg as a simbool opgeneem nie. Ons maak of dit gaan oor hierdie of daardie formulering, oor hierdie of daardie tegniese verstaan van belydenisskrifte. Maar die waarheid is waarskynlik dat of Belhar aanvaar word of nie, of Artikel 1 aanvaar word of nie, gaan veel meer oor die simboliese betekenis wat ons daaraan koppel, en die effek van ons besluit lê veel meer op die vlak van die simboliese betekenis wat ander aan ons stem heg, as wat dit vasgevang gaan word in komplekse argumente.

Anders as Bosch oor Kairos aanvaar ek Belhar. Ek pleit egter ook daarvoor ter wille van die simboliese betekenis van my aanvaarding daarvan. Soortgelyk aan Bosch oor Kairos weet ek daar is mense wat sukkel om Belhar as Belydenisskrif te aanvaar (al is Belhar teologies baie eenvoudiger om te aanvaar, en moeiliker om nie te aanvaar nie, as Kairos), maar ook hier moet ons dalk hoor dat selfs by iemand wat diep beginselbesluite geneem het (en Bosch het beginselbesluite geneem) moet ons hoor dat ons die simboliese betekenis van ons besluite ook met tye in die kerk baie ernstig moet opneem. Ons getuienis is immers baie keer veel meer met simboliek en persepsies uit te waai as met fyn geformuleerde standpunte.


My storie oor artikel 1

Hierdie is die langste blogpost wat ek nog ooit geskryf het (ek dink). Maar hier is my storie oor artikel 1.

Toe Jean Oosthuizen se onlangse harde woorde oor die artikel 1 proses verskyn, was die eerste twee mense op my facebook feed wat dit deel mense wie se persoonlike standpunte oor Belhar ek baie goed ken. Een wat al gereeld laat val het dat Belhar eintlik maar bietjie dwaalleer is, ‘n ander wat nog deurlopend duidelik was dat artikel 1 slegs aanvaarbaar kan wees as Belhar op presies dieselfde wyse as ander belydenisskrifte in die kerkorde ingeskryf word, en dat variasie in die belydenisgrondslag van lidmate van dieselfde kerk onmoontlik is. Twee stemme, een vir wie dit onmoontlik is om in ‘n kerk te wees waar Belhar ‘n belydenisskrif is, die ander vir wie dit onmoontlik is om in ‘n kerk te wees waar party teen Belhar as ‘n belydenisskrif is. So lyk dit my.

Aangesien ek my eie voortgaande ondersteuning van artikel 1 herhaaldelik moes verduidelik die afgelope paar maande, gaan ek dit nou maar nog ‘n keer doen. Ek sien almal wil deesdae namens lidmate praat: verduidelik hoekom lidmate nie kom stem het nie (ek sal waag om hier onder aan te dui wat die grootste rede daarvoor is, en dit deur goeie navorsing te ondersteun) of waarom hulle nee gestem het, sal ek amper dieselfde doen, vertel waarom lidmate ja gestem het. Maar ek sal dit maar net by een lidmaat hou: ekself. As ek met iemand praat is dit egter daai gemeentes wat met oorweldigende meerderhede die voorgestelde artikel ondersteun het (en die nuwes wat nog bykom, want ten spyte van die publieke onrus is daar steeds gemeentes wat met 80% of meer stemme ja stem vir artikel 1). Ek het ja gestem, en ek kan maar net vertel waarom ek steeds oortuig is dat dit ‘n goeie idee was. Dalk help dit ander om te verduidelik waarom hulle ook ja gestem het.

Ek sou artikel 1 in sy huidige vorm nie kon uitdink nie. Ek sou dit nie kon uitdink nie, want as jy my laat droom oor die kerk dan sou die kerkorde nie so gelyk het nie. Ek het nogals gehou van die oorspronklike voorstel.

KERKORDE ARTIKEL 1

1. Die Nederduitse Geformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.

2. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die belydenisskrifte wat deur kerkvergaderinge, ampsdraers en lidmate onderskryf word.

3. Die Kerk bely:

3.1 in verbondenheid met die vroeë kerk die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanatius;

3.2 in verbondenheid met die kerk van die reformasie die drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofbelydenis en die Dordtse Leerreëls;

3.3 in verbondenheid met die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks die Belydenis van Belhar.

4. Die Kerk aanvaar dat die onderskrywing van bykomende belydenisse naas die ekumeniese belydenissse en die drie Formuliere van Eenheid sonder dwang geskied.

5. Die Kerk aanvaar dat die taak van belydenisvorming nie afgehandel is nie en dat ‘n beter verstaan van die Woord van God kan lei tot wysiginge aan die belydenisgrondslag van die Kerk.

Die idee dat ons belydenisskrifte nie as dokumente wat uit die hemel geval het aanvaar nie, maar as dokumente wat in ‘n spesifieke tyd en plek ontstaan het sou ons gehelp het. Ons belydenisse het in die vroeë kerk, tydens die Reformasie, en in die onlangse geskiedenis van Suider Afrika onstaan. Ons is ‘n kerk wat in verbondenheid met hierdie drie momente leef. Ons belydenisskrifte herinner ons aan die belangrike dinge wat in hierdie drie momente vir ons duidelik geword het.

Ek was egter nie orals gemaklik met die voorstel nie. Nadat dit publiek gemaak is was ek die eerste een wat skriftelik kommentaar gelewer het daarop:

Die idee dat spesifiek Belhar sonder dwang bely word is uiters geforseerd so op sy eie. Kom ons laat dit of uit, of verander dit om te sê dat alle belydenisse sonder dwang bely word. Ons sou tog uit ons geskiedenis kan leer dat die afdwing van enige belydenis die getuienis van die kerk ondergrawe. Soos dit nou lees wonder ek dadelik of ek dan maar die NGB kan afdwing?

Daar moet geen onduidelikheid wees oor waar ek oor Belhar staan nie. Ek het voor die sinode my eie energie ingegooi om ‘n baie spesifieke voorstel oor hoe ons Belhar gemeentes toe moet vat op die tafel te help sit. ‘n Handleiding wat gesamentlik tussen NG en VG predikante geskryf is (alhoewel ek die enigste NG predikant was wat uiteindelik daaraan help skryf het, was daar verskeie ander vriende betrokke by die proses om dit te ontwikkel), en wat as Leef Belhar deel van die gereedskapskis van die NG Kerk geword het. Ek weet nie hoeveel dit ooit gebruik was nie, want dit het eintlik gevra dat NG en VG lidmate saam deur Belhar werk, nie om weer te gaan beoordeel of dit nou in lyn is met die Bybel, of om te gaan uitwerk hoekom dit in lyn met die Bybel is nie, maar omdat hulle reeds aanvaar dat dit in lyn met die Bybel is en wil uitwerk wat dit beteken vir hulle lewe.

2013 se Algemene Sinode het my egter geskuif. Nie oor Belhar nie, maar oor hoe dit sal lyk om Belhar te aanvaar. Vreemde dinge gebeur by ‘n sinodesitting. Ons praat met mekaar. Luister na mekaar. Hopelik. Ek moet luister na die klein handjie vol afgevaardigdes wat regtig nie oortuig was dat Belhar as ‘n belydenisskrif aanvaar moes word nie. In een wegbreekgesprek het twee van die sterkste teenoorstaande stemme wat afgevaardig is mekaar in die oë gekyk met die woord: “ek wil saam met jou in die kerk wees, hoe gaan ons dit regkry?” Artikel 1 was die resultaat, en ek was oortuig dat ek ‘n kerk verkies wat hierdie tipe ruimte maak. Dit was hierdie momente wat my so positief oor konsensus laat skryf het na die sinode.

Maar wat het artikel 1 beteken. En kom ons wees nou maar eerlik en praat net oor die gedeelte rondom Belhar, want dit mos maar waar die spanning lê.

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.

Daar is ‘n belangrike onderskeid tussen hoe die debat oor die Belydenis van Belhar populêr verpak word en hoe dit hier beskryf word. Populêr lyk dit my word gemaak asof daar twee groepe is: die wat dink Belhar is reg en die wat dink Belhar is verkeerd. Die wat dink Belhar is Bybels en die wat dink Belhar is nie Bybels nie. Party in die kerk sal Belhar bely as in ooreenstemming met die Woord van God en ander sal dit nie as ‘n belydenisskrif onderskryf nie. Anders as die populêre gesprek is hierdie twee opsies is nie teenoorstaandes nie. 2.2 van die voorstel is egter in lyn met alles wat die Algemene Sinode voorheen gesê het. Die voorstel aanvaar dat beide groepe aanvaar dat hierdie dokumente wat deur die destydse NGSK as ‘n belydenisskrif geskryf is in lyn met die Bybel is en nie in skryf is met die ander belydenisskrifte nie maar erken dat daar in die NG Kerk verskille is oor of die Belydenis van Belhar deur die NG Kerk as ‘n belydenisskrif aanvaar moet word.

In wese veronderstel dit dus nie teenoorstaande teologiese posisies nie, maar erken wel dat verskillende goed as sentrale punte gesien word. Of, om my eie idee oor belydenisskrifte te gebruik, die tweede opsies erken beide dat wat in 1982 en 1986 deur die NGSK gesê is Bybels is, maar verskil oor of hulle hulle eie identiteit vind “in verbondenheid” met die NGSK se oortuiging. As ons werklik tegnies wil raak dan sal ek sê die vraag is of ‘n erkenning dat Belhar in lyn met die Bybel is genoegsame getuienis is dat jy teen die dwaalleer is wat apartheid teologies regverdig het, wat gesê het dat mense van verskillende rasse inherent onversoenbaar is, of dat ‘n politieke beleid wat een groep oor ‘n ander laat heers op grond van een of ander biologiese merker Bybels regverdig kan word. In Suid Afrika is ek tog oortuig dat Belhar vir die NG Kerk ‘n uiters belangrike simbool is dat ons hierdie dwaalleer verwerp, maar ek weet nie of ek dit ‘n vereiste wil maak voor ek oortuig is dat jy hierdie dwaalleer verwerp nie (as ek doen dan word ek immers gekonfronteer met die histories swart kerke wat dit nie as ‘n belydenisskrif wil aanvaar nie, of deur die verskeie kerke reg oor die wêreld wat dit nie as ‘n belydenisskrif wil aanvaar nie, en moet ek vra of ek ook hier moet twyfel of hulle hierdie dwaalleer verwerp).

Die voorstel gaan dus uit van die aanvaarding dat die Belydenis van Belhar teologies suiwer is. Dit het ek reeds tydens 2013 se sinodesitting bevestig met van die mense wat hierdie voorstel help formuleer het. Dit het Nelis Janse van Rensburg ook reeds tydens die sinodesitting in die interpretasie van die besluit verduidelik:

Daar is mense wat sê hulle stem saam dat hierdie in ooreenstemming met die Woord van God is, maar alles wat gesê word wat in ooreenstemming met die Woord van God is hoef nie noodwendig ‘n belydenisskrif te wees nie, daarom wil hulle dit nie hê as ‘n belydenisskrif nie. Daar is ander wat sê hierdie moet ‘n belydenisskrif wees en dit is in ooreenstemming met die Woord van God. Die besluit wat vandag geneem is maak voorsiening vir beide hierdie twee groepe, sodat mense wat sê hierdie is in ooreenstemming met die Woord van God en hierdie moet ‘n belydenisskrif wees dit baie duidelik kan sê, maar dat diegene wat sê ons dink nie dit moet ‘n belydenisskrif wees nie die kan oor ruimte vind binne die beskrywing van die punt in die kerkorde. Die eintlike waarheid is dat ons niemand dwing om ‘n belydenisskrifte te aanvaar nie…

Dis ‘n kort video wat ons gerus weer kan kyk. Natuurlik kan daar verskeie ander maniere wees waarop artikel 1 interpreteer kan word, en ons weet mos dat wanneer ‘n teks eers neergesit word dan het ons nie meer beheer oor die interpretasie daarvan nie, maar om die vorige interpretasies te ignoreer wanneer ek ‘n teks interpreteer is tog nie baie verantwoordelik nie. Hierdie was die aanvanklike interpretasie. Ander interpretasies is moontlik, maar ons moet tog maar net in gesprek gaan met hierdie interpretasie voor ons ander interpretasies oopmaak. Ag, ons hoef seker nie, ons kan seker maak wat ons wil, maar ek het gekies om met hierdie interpretasie te werk van Oktober 2013 af, en dis steeds waar ek staan.

Oor wat ons bedoel met “sonder dwang” lyk dit my moet ons nog verder praat. Mary-Anne Plaatjies van Huffel het ook hieroor gepraat tydens 2013 se sinode. Maar een ding weet ek, met ‘n kerk wat aandring dat belydenisskrif wel afdwingbaar is sal ek maar sukkel. Dalk moet ons verder praat oor hierdie “sonder dwang” ding, ook oor wat dit beteken oor ons ander belydenisskrifte.

Vir my was dit nog altyd duidelik dat artikel 1 nie ‘n radikale besluit was nie. Maar ek weet nie of ek radikale besluite van Algemene Sinodes verwag nie. Eintlik was my gevoel dat hierdie artikel net ‘n beskrywing is van waar ons tans is: ons kan nie rede sien waarom daar teologiese probleme met die Belydenis van Belhar is nie maar ons stem nie saam oor of dit ‘n belydenisskrif moet word nie. Dit is waar ons is en ons het kerkordelik uitting daaraan probeer gee.

En vir al hierdie redes kon ek met ‘n rustige hart my persoonlike steun vir hierdie voorstel gee. En dalk is dit van die redes wat agter gemeentes wat met 80% of 90% hulle steun aan die artikel gegee het se besluite sit. Dalk was daar ander.

‘n Paar ander opmerkings is dalk ook belangrik.

Ek het oor die afgelope 2 jaar baie gedink oor hoe my persoonlike standpunte in gesprek staan met die standpunte van ‘n kerkverband. Ek is ‘n dosent aan ‘n universiteit. Ek word betaal om standpunte te hê en ek het nogals baie van die goed. Die waarheid is dat ek baie keer standpunte het oor dinge waaroor ek nog maar min gedink het. Al werk ek in my eie teologiese werk met ‘n benadering wat baie sterk beklemtoon dat die oortuigings wat ek het nou verbind is aan my eie posisie en konteks dink ek nog maar steeds dat ek gewoonlik beter wees.

David Bosch skryf:

l am deeply indebted to Michael Polanyi. At one point, however, I have to criticize him: he seems to have no eye for the community as bearer of the faith. He almost exclusively uses the first person singular. He seems to be unaware of the extent to which he has, in this respect, internalized and succumbed to the individualism of the Enlightenment. However, unlike philosophical schools or scientific experiments, theology has no life unless it is borne by a community.

‘n Sinode is natuurlik nie die enigste gemeenskap wat ons kerk noem nie. Dit is maar een vorm daarvan. Maar as teoloog is ek oortuig dat ons hierdie gesamentlike oortuigings ernstig moet opneem. Nie as finale woord nie. Nie as die karikatuur wat ons van “geloofsonderskeiding” gemaak het, asof hierdie een moment meer van God se teenwoordigheid sou gehad het as ‘n ander nie. Eintlik moet ons maar ernstige bedenkinge hê oor enige finale woord van ‘n sinodesitting as ons hierdie idee van ‘n teologie wat deur die gemeenskap gedra word ernstig opneem. Want hoe sal hierdie groep wit, hoofsaaklik mans, met ‘n oordrewe hoeveelheid akademiese opleiding dan nou ‘n finale woord kan spreek. Maar daar is vir my waarde daaraan dat ons kan sê: “so dink ons, en dit is anders as wat ek alleen dink”.

Artikel 1 was vir my uiteindelik hoe “ons” gedink het. Dit sal weer verander. Dit sal konstant verander. En dit sal altyd anders wees as wat “ek” dink of glo. Dit is OK. Dit is dalk ook ‘n eerliker manier om oor ons belydenisskrifte te praat, want na al die groot uitsprake oor belydenisskrifte, is die waarheid mos dat in werklikheid is ons nie regtig so ernstig oor belydenisskrifte nie. Iemand wat meer van die geskiedenis weet verduidelik die ander dag vir my dit kom eintlik al eeue. In die vroeë Kaapkolonie was daar al dominees wat nie met die Heidelbergse Kategismus saamgestel het nie en wat nie by al die reëls oor hoe hulle daaroor moet preek wou hou nie. Van al hierdie reëls oor hoe Gereformeerdes met belydenisskrifte omgaan verstaan ek maar min. In ‘n kerk wat eintlik maar liggies met belydenisskrifte omgaan het ek min hieroor geleer in my eie kategese en selfs as ‘n teologiese student. Party sal ontsteld wees daaroor, maar ek vermoed meeste lidmate en predikante in die NG Kerk gaan maar elkgeval so liggies om met die belydenisskrifte (kyk maar na ons kategese materiaal, ons preke, ons liturgie of selfs sinodale besluite en vra hoeveel van ons belydenisskrifte werklik hierin ‘n rol speel). So waar belydenisskrifte so hoog opgeskryf word, of dit nou deur mense is wat Belhar as ‘n belydenisskrif wil sien of nie, wil ek tog maar vra dat ons net konsekwent sal wees en dieselfde klem op al ons belydenisskrifte moet plaas. Of kan ons nie maar net erken dat daar reeds ‘n groot mate van ruimte in die kerk is dat ons bykans met ‘n “belydenisskrif in ‘n belydenisskrif” (soortgelyk aan ‘n kanon binne ‘n kanon?) werk nie? Die een oom in die ouetehuis by ons se woorde oor artikel 1 was “ag dominee, ek stem in elkgeval met 5 van die 6 belydenisskrifte nie saam nie, nog een waarmee ek nie saamstem nie gaan nie ‘n verskil maak nie”. Dalk moet dit ook maar kerkordelik beskryf word iewers, sodat ons die skisofrenie tussen ons kerkorde en ons kerklike lewe bietjie kan wegskryf.

So wat maak ons nou? Ons het onsself vasgeverf oor hoe ons moet besluit wat “ons” dink oor belydenisskrifte. Ek weet nie wat maak ons nou nie. Ek weet dat daar gemeentes is wat diep oortuig is dat hierdie die roete is wat ons moet gaan. Ek weet nie waarom ander nie daarvan oortuig is nie.

In die lae stempersentasie hoef ons nie baie in te lees nie. Die enigste betroubare navorsing wat ons het hieroor is dat die NG Kerk, soos baie ander soortgelyke kerke, ‘n erediensbywoning van ongeveer 30% het. So vir ongeveer 70% van ons lidmate is die rede waarom hulle nie deelgeneem het nie omdat hulle waarskynlik nie in die kerk was nie. Moontlik nie eens iewers gedurende die proses in die kerk was nie, en nie eens geweet het dat daar gestem word nie, wat nog te sê waarom daar gestem word. Verder is daar genoeg navorsing oor gemeentes wat wys dat ‘n groot deel van Sondag oggend se erediens bygewoon word deur mense wat eintlik so bietjie op armlengte van die gemeente staan. Hulle is nie regtig betrokke by die dinge van die gemeente nie. Waarom is ons nou so ontsteld oor hulle nie deelgeneem het aan een van die mees komplekse kerklike prosesse wat ons nog gehad het nie? Vir meer as dit sal ons dalk maar eers ons navorsing moet gaan doen, en dalk moet ons dit tog maar doen.

Die radikale verskille tussen gemeentes moet wel vir ons iets sê. Dat een gemeente 90% en ‘n ander gemeente 20% ondersteuning van die voorstel gekry het. Uit die bietjie inligting wat ek al gesien het is daar geografiese patrone, maar deurlopend voorbeelde wat nie by die patroon hou nie. Daar is moontlik patrone oor die generasies wat ‘n gemeente vorm, maar natuurlik oor uitsonderings. Daar is dalk patrone oor gemeentegrotes, maar ook uitsonderings. Daar is vermoedelik patrone oor hoe die proses bestuur en verduidelik is, en saam met dit wat predikante in ‘n gemeente se oortuiging is, maar ook hieroor is skynbaar uitsonderings.

Ek hoor gereeld dat die Algemene Sinode ‘n beter besluit oor artikel 1 moes neem. Wat ek nog by niemand kon hoor is hoe hierdie beter besluit formuleer moes gewees het nie. Daar is egter een voorwaarde aan hierdie besluit: ons het onsself verbind om konsensus te soek oor ‘n pad vorentoe, om nie ‘n besluit deur te forseer met 70% van die stemme nie. Die voorstel moet so wees dat ons in een kerk saam kan bly. Dalk is dit onaanvaarbaar. Dalk moet ons die kerk nou maar net uitmekaar haal en klaarkry. Maar ek wil daardie roete so lank as moontlik uitstel.

Maar om daardie roete uit te stel moet ek ‘n laaste opmerking oor my eie reis maak: daardie dag in Oktober 2013 het die Algemene Sinode met bykans 100% stemme “ja” gestem vir artikel 1. Ons het konsensus gehad. Dit was nie vir my ideaal nie, maar ek het myself verbind om deel van hierdie kerk te wees wat hierdie ruimte maak, en die wat saam met my in die gemeente is (waarvan niemand waarskynlik hierdie gaan lees nie want hulle is of ouer as 70 of hulle praat nie Afrikaans nie, met bitter min wat nie in een van hierdie twee groepe val nie) sal weet dat ek baie hard aan hierdie konsensus verduidelik het. Maar waar is daardie 200 afgevaardigdes vandag? Die van julle wat nie julle weg kon oopsien om hierdie belydenisskrif te aanvaar nie maar tog artikel 1 ondersteun het, waar is julle vandag? Want ek kan maar net nie ontslae raak van die gevoel dat die ooreenkoms wat daar aangegaan is, dat ons hierdie voorstel aan die kerk sal gaan verduidelik, nie nagekom is nie.

En as ons nie kan voorsiening maak vir “mense wat sê hierdie is in ooreenstemming met die Woord van God en hierdie moet ‘n belydenisskrif wees” nie? Wat sê ons dan? My eie vorige woorde was:

Neels Jackson het iets daarvan verwoord op die voorblad van die Kerkbode van 1 Augustus: “Word die voorgestelde wysiging nie goedgekeur nie, sal dit ‘n bitter pil wees vir dié lidmate, kerkrade en sinodes wat in elk geval die inhoud van Belhar bely”.

Maar “bitter pil” is dalk nie sterk genoeg nie. Vir almal wat so sterk voel oor die betekenis van belydenisskrifte (en daarom nie aan die belydenisgrondslag wil verander nie) behoort dit duidelik te wees hoe ernstig dit sal wees. As ek bely (en daar is nie ‘n dieper manier waarop ‘n Gereformeerde iets kan sê nie), en die kerk sê vir my dat daar nie ruimte is om so te bely nie, watse vrae maak dit oop oor my lidmaatskap van die kerk? Dwing dit my nie tot ‘n diep etiese en teologiese, nee bliksem, ‘n blote sielswroeging voor God, as die kerk vir my sê dat dit waarvan ek oortuig is, nee, nie oortuig is nie, dit wat ek bely, nie bely kan word in hierdie kerk nie?


Belhar en die Bybel – ‘n lyn in die sand

So hier is wat my kry oor hierdie Belhar gesprek: dat daar mense is wat regtig verwag dat ons weer ‘n keer moet verduidelik dat Belhar teologies OK is, dat Belhar in lyn met die Bybel is. So asof dit nou een of ander nuwe insig is dat die Belydenis van Belhar “in ooreenstemming met die Woord van God” is. Net so verlammend is die tegniek om te vra dat die NG Kerk tog nou eers weer ‘n keer ‘n kommissie moet aanstel om te gaan navorsing doen oor Belhar, met harde woorde soos:

“Dit is skokkend dat selfs die Algemene Sinode nog geen teologiese studie van Belhar gedoen het nie. Nie een enkele van die besluite wat tot dusver oor Belhar geneem is, is geneem op grond van ‘n objektiewe evaluering voor die Sinode nie.”

Of:

“… skryf: “Die Algemene Sinode het immers al jare gelede besluit dat die inhoud en strekking van Belhar met die Bybel ooreenstem en só word di took in die voorgestelde nuwe artikel 1 van die Kerkorde verwoord.” Ja, dit is blykbaar wat die Sinode besluit het, maar dis besluit sonder enige studiestuk wat amptelik aan die Sinode voorgelê is.”

Nou wil dit vir my voorkom of hierdie uitsprake tegnies waar is. Maar die tegniese rus op goed soos “objektiewe evaluering voor die Sinode” en “amptelik aan die Sinode voorgelê”. Ja, jy nie so ‘n evaluering in die agenda of handelinge van ‘n Algemene Sinode sal vind nie, maar dit beteken nie dat dit nie bestaan nie, en die verwysings daarna is wel mooi duidelik in die agenda. So hier is hoe ek die storie lees.

In 1982 word Belhar opgestel en die Algemene Sinode sê:

* “Die Algemene Sinode het kennis geneem van die amptelike skrywe van die NG Sendingkerk, maar was tydens hierdie sitting nie in ‘n posisie om ‘n diepgaande studie daarvan te maak nie

dra dit aan die Breë Moderatuur op om die stukke van die NG Sendingkerk te bestudeer en onverwyld met die NG sendingkerk hieroor in gesprek te tree.”

En dan later

“Die Sinode het met groot smart verneem dat ‘n belydenisstuk as uitvloeisel van ‘n Status Confessiones as in “konflik” teenoor die Ned Geref Kerk en gelykstaande met ons ander belydenisskrifte, in die lig gestuur is.”

1986 kom en daar word besluit:

“1.3.2  die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake en die Algemene Regskommissie ontvang die opdrag om in die lig van die” Antwoord van die Breë Moderatuur aan die NGSK oor die Konsepbelydenis” (Agenda 1 986 pt 2.1.3.1.6 op bl 22) asook ander tersaaklike stukke soos bv die studiestuk van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in SA, Agenda beskrywingspunt B4.5 (op bl 452) die nuwe “Kerk en Samelewing” en alle besluite van die NGSK Sinode, asook die Acta van die Algemene Sinode 1982, wat ons verhoudinge raak die Belharbelydenis te beoordeel en ‘n verslag aan die Breë Moderatuur voor te lê.

Die Breë Moderatuur ontvang opdrag om in die lig van 1.3.2 hierbo na bevind van sake te handel. Die Sinode dra dit aan die Breë Moderatuur (Algemene Sinodale Kommissie) op om so spoedig moontlik die beoogde samesprekings en onderhandelings aan te knop en by die eersvolgende Sinode verslag te doen”

As ek dit reg lees, was die studiestuk van AKLAS toe nooit terug na die Algemene Sinode toe nie, omdat die opdrag was dat die studiestuk na die ASK toe moet gaan, en die ASK die opdrag kry om verslag te doen, nie AKLAS nie (jammer vir al die afkortings). Punt is egter, hierdie studiestuk is opgestel, en dit het voor die ASK gedien, en dit kan nou afgelaai word. As ons die Algemene Sinode se integriteit hier in twyfel gaan trek, asof daar nie ernstig oor besluite gedink was nie, dan kan ons werklik maar min dinge vertrou wat uit ons tradisie kom.

Daar is baie mooi goed hierin (soos die deel oor belydenis wat soos hoes is), en ook goed waarmee van ons dalk vandag sal verskil (soos die evaluasie van Kairos), maar hier is die punt wat belangrik is:

“Sonder vrees vir teenspraak kan gese word dat die positiewe uitsprake van die BB in ooreenstemming met die Skrif en die gereformeerde belydenis is en daarom deur die NGK onderskryf kan word.”

Oor die manier waarop Belhar die implikasie van die belydenis verwoord is daar ‘n stuk ongemak, maar die ongemak lê hoofsaaklik daarin dat die studiestuk wil uitwys dat na Kerk en Samelewing kan die kritiek van Belhar nie meer so eenvoudig op die NG Kerk van toepassing gemaak word nie. Maar die NG Kerk se eie studiestuk erken dat die teologie waarmee die NG Kerk in die verlede gewerk het verkeerd was (daar bly tog iets mooi, iets kerkliks, daarin dat die NG Kerk kan erken dat ons droog gemaak het).

In 1990 lees ons van hierdie verslag:

“Nadat AKLAS ‘n stuk op 2/9/88 aan die ASK voorgelê het, en nadat al die lede hulle kommentaar daarop kon lewer, het die ASK besluit om soos volg by die Algemene Sinode aan te beveel as beleidstandpunt oor hierdie saak:”

en direk daarna

“5. Die ASK oordeel dat die Belharbelydenis op sigself genome nie met die drie Formuliere van Eenheid in stryd is nie en dat dit nie verwydering tussen kerke hoef te bring nie.

8. Die ASK oordeel dat bepaalde uitsprake anders geformuleer kon gewees het, oa par 4 van die Belharbelydenis en dat die uiteensetting van “Kerk en Samelewing” oor die Here as God van “die arme en verontregte” , die Bybelse uitsprake in die verband suiwerder stel (vgl par 143-151 van Kerk en Samelewing).”

So daar is navorsing gedoen, daar was ‘n proses gewees, en Belhar is aanvaar as in lyn met die leer van die kerk, al is daar nog in 1990 gevoel dat Kerk en Samelewing op sekere punte ‘n beter formulering sou wees, en meer nog, dat dit belangrik is om dit uit te wys.

Dit bring ons by 1998, waar die sinode weer sê:

“Die Algemene Sinode aanvaar dat die Belydenis van Belhar op sigself genome nie met die Drie Formuliere van Eenheid in stryd is nie.”

Daar kom dan ‘n amendement in wat die voorstel wou wysig om by te voeg

“alhoewel die kerk oordeel dat bepaalde sake anders geformuleer kon gewees het”

Hierdie amendement word verwerp, wat dus ‘n klein skuif weg is van die besluit van 1990, of dalk het ons net intussen geleer dat daar verskillende maniere is om goed te verwoord, en dat ons nie altyd die een teen die ander hoef op te weeg nie.

Daar is natuurlik ander dinge waaroor ons meer verskil. As jy deur die geskiedenis lees is die stem dat Belhar nie ‘n belydenisskrif behoort te wees nie altyd baie duidelik. Maar, die NG Kerk het nog altyd duidelik en ondubbelsinnig gesê dat daar geen teologiese probleem met Belhar is nie en dat Belhar in lyn met “die drie Formuliere van Eenheid” is (wat seker veronderstel dat dit in lyn met die Bybel ook is, soos wat die studiestuk duidelik maak).

So hier is my punt dan nou weer: verwag ons dan nou nogsteeds dat ‘n predikant van die NG Kerk haar/homself moet verdedig omdat ons ‘n standpunt inneem wat bloot in lyn met 25 jaar se besluite van die NG Kerk is? As ek as predikant van die NG Kerk bloot sê dat ek dink Belhar is teologies in lyn met die Bybel en met ons Gereformeerde tradisie, dan het ek mos nie nodig om myself te verdedig nie? Die teendeel moet mos eintlik eerder waar wees.

Die punt is nie dat alles wat die kerk ooit sê slaafs en kritiekloos aanvaar moet word nie. Dit was nog nooit hoe ek oor die kerk gedink het nie. Maar om dele van die kerk van dwaalleer te beskuldig (ook indirek, deur iets wat as ‘n belydenis beskryf word deur party as dwaalleer te beskryf) is ‘n ernstige aanklag. Dalk het ons al vergeet hoe ernstig dit is. Die oomblik wanneer ons mekaar van dwaalleer begin beskuldig, dan word ‘n gesprek waarin ons na mekaar luister bykans onmoontlik. Dit alleen moet ons uiters versigtig maak om in ‘n tyd waarin ons na mekaar moet luister oor dwaalleer te praat. Die feit dat die NG Kerk vir 25 jaar lank by herhaling Belhar as in lyn met die Bybel en ons tradisie beskryf het behoort hierdie grens in ons gesprek nog ‘n bietjie meer ernstig op te neem. ‘Dit is natuurlik nie ‘n harde grens nie, dit kan maklik oorgesteek word. Ek weet dat daar steeds stemme gaan opgaan wat wil aandring dat, anders as wat ons nog altyd sê, Belhar dwaalleer bevat.

Die gesprek waarvoor ek ruimte wil maak lê egter duskant hierdie grens. Dis ‘n gesprek wat gaan oor hoe ons oor belydenisse dink, hoe ons oor belydenisvorming dink en oor wat ons dink dit beteken wanneer Gereformeerdes belydenisse onderskryf. En hier dink ek kan ons maar ruimte hê om van mekaar te verskil. As ons met mekaar kan ooreenkom dat ons mekaar se belydenisse as in lyn met die Bybel beskou, dan kan ons maar verskil oor of ons dit as ‘n belydenis onderskryf.

So kan ons nie maar net ooreenkom om hier ‘n lyn in die sand te trek nie: oor Belhar as belydenisskrif kan ons verskil, maar ons bevestig in ons gesprek met mekaar dat Belhar in lyn met die Bybel is, soos ons nog altyd doen.

* Daar was ‘n fout in die oorspronklike weergawe van hierdie blogpost. Die eerste besluit wat nou korrek as ‘n besluit van 1982 se Algemene Sinode aangedui was, was oorspronklik verkeerdelik as ‘n besluit van 1986 se Algemene Sinode beskryf. Vir deursigtigheid kan die oorspronklike weergawe hier gelees word. Dit verander egter niks aan die argument nie.


Ja vir die status quo (oor artikel 1)

Dis nou nie 95 stellings nie, maar laat ek tog maar my sê sê.

Dit was 2008 toe ek die eerste keer ‘n afgevaardigde na ‘n sinode was. Ek moet bieg ek het dit nie baie ernstig opgeneem nie. Ek was die jong siniese teologie student wat gesit en selfoonspeletjies speel het vir twee dae lank. Dit was ‘n paar maande voor legitimasie, en teen die einde van die Sinodesitting stap ek na ‘n belangrike verteenwoordiger van die kuratorium (dis nou die lot wat na die kerk se teologiese opleiding en die legitimasie van teologiese studente moet kyk) ek vra: “so wat sal dit beteken as ons Belhar onderteken met ons legitimasie?”.

Sy antwoord was eenvoudig: “niks.”

“Tot die kerk Belhar erken, sal dit niks beteken as julle Belhar onderteken nie.”

Dit was nie lank daarna wat die NG Kerk se studente van Stellenbosch Belhar tydens hulle legitimasie begin onderteken het nie, en nog ‘n paar jaar toe onderteken studente van Pretoria ook Belhar. Dalk sou dit iemand bietjie vies gemaak het as studente in 2008 reeds aangedring het daarop om Belhar te onderteken, maar ek wonder of hierdie kuratorium voorsitter dalk reg was: tot die kerk Belhar as belydenisskrif erken, beteken studente se ondertekening daarvan by legitimasie niks nie. Ek het dit toe nooit onderteken nie.

Ek weet nie of dit so gereeld gebeur dat ek ‘n voorstaander van die status quo is nie, maar hierdie rondte gaan ek dit tog vir ‘n oomblik wees (of dit die katoliek of die pragmatis is wat uitkom weet ek nog nie). Want artikel 1 is net dit: die handhawing van die status quo.

Maar hoor my tog uit voor jy na enige kant toe beoordeel.

Toe die voorstel uit die Wes-Kaap sinode in 2011 aanvaar is dat Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk gemaak word, het dit met ‘n ongelooflike stuk opgewondenheid gepaard gegaan. ‘n Sinodesitting wat in trane was (letterlik in baie plekke), en toe ons ‘n paar dae later met “Lord of the Dance” afsluit toe staan ek langs my pa en sê vir hom: “mens kan ook net verstaan wat hier aangaan as jy onthou dat hierdie selfde sinode maar eers 25 jaar terug die teologiese regverdiging van apartheid verwerp het”. Simbolies was 2011 se besluit belangrik. Teologies was dit selfs belangrik. Kerklik was dit soortgelyk aan die baie gemeentes van die NG Kerk wat Belhar oor die afgelope liturgies bely het. Dalk die kuratorium-lid verkeerd gewees, en is hierdie liturgiese belydenis wel belangrik, maar die verandering van ‘n belydenisgrondslag, daardie permanente merker in die geskiedenis van ‘n kerk waarin ons sê dat ons vir ewig onsself sal verstaan aan die hand van hierdie moment en hierdie historiese woorde, dit is tog iets anders as ‘n uitroep, ‘n eenmalige liturgiese handeling.

So 2013 se Algemene Sinode het gekom. Vreesaanjaend vir party, totaal teleurstellend vir ander. Die nou bekende voorgestelde “Artikel 1” is geformuleer. My eie voorstel vooraf was dat ons bloot sê dat alle belydenisse “sonder dwang” aanvaar word, maar ek dink dit maak ander teologiese vrae oop as wat tans op die tafel is (ek dink egter die logiese gevolg van waarmee ons besig is gaan ons hierheen neem, maar later meer hieroor).

Ek het na die 2013 sinode my waardering oor die konsensus wat ons gevind het neergepen. Wat min mense beleef het, maar wat vir my diep betekenis gehad het, was in die laataand vergadering waarin ‘n voorstel vir hoe ons Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk gaan maak gesoek is, toe twee sterk stemme wat teenoorstaande standpunte rondom Belhar verteenwoordig met ‘n diep erns vir mekaar gesê het: “Ek wil saam met jou in die kerk wees. Hoe gaan ons dit regkry?”.

Dis ‘n lang inleiding om by die status quo uit te kom. Want artikel 1 is die status quo in die NG Kerk. Dis nie iets radikaal wat besluit is nie (wat natuurlik weer ander se kritiek uitroep). Dit is kwalik iets nuuts. Al was dit doen is om vir mense soos ek, vir wie Belhar as belydenis waarskynlik veel meer beteken as meeste van die ander woorde wat ons “belydenis” noem in die NG Kerk, die ruimte te gee wat die kuratorium-lid erken het ek nie het nie. Dit gee betekenis aan my belydenis.

Jy sien, daar is in die NG Kerk reeds baie individue, ‘n groeiende hoeveelheid kerkrade, ringe, sinodes, en as ek die gebeure reg interpreteer selfs die Algemene Sinode, wat op verskillende maniere gesê het: “Vir my/ons is Belhar ‘n belydenisskrif”. Dit was onafhanklik van die verandering van ‘n kerkorde. Dit is reeds daar. We walk amongst you.

Vir my is die proses rondom artikel 1 eenvoudig: Dis ‘n vraag aan die NG Kerk, op ‘n breër en meer indringende wyse as wat ons in dekades, of dalk nog ooit, oor saam ‘n besluit moes neem, wat vra: “is ons OK daarmee dat daar tussen ons individue, gemeentes, ringe en sinodes is wat die belydenis van Belhar as ‘n belydenis aanvaar?” Is ons OK daarmee om die status quo te bevestig?

Ek weet daar is hier en daar mense in die kerk wat sê: “Nee, dis nie OK dat ons net aanvaar dat daar tussen ons mense is wat Belhar bely nie, ons wil hê almal moet Belhar bely”. Dis mense by wie ek myself gewoonlik tuis vind, maar hierdie keer kies ek ‘n ander roete.

Meer algemeen is die idee dat dit moontlik is om “nee” te antwoord op die vraag wat ek dink ons oor moet stem. Daar is plekke in die kerk wat sê: “nee, dit is nie OK as daar tussen ons mense is wat Belhar bely nie, niemand mag Belhar bely nie”.

Die betekenis van so ‘n keuse is nog nie genoeg oor gepraat nie. Neels Jackson het iets daarvan verwoord op die voorblad van die Kerkbode van 1 Augustus: “Word die voorgestelde wysiging nie goedgekeur nie, sal dit ‘n bitter pil wees vir dié lidmate, kerkrade en sinodes wat in elk geval die inhoud van Belhar bely”.

Maar “bitter pil” is dalk nie sterk genoeg nie. Vir almal wat so sterk voel oor die betekenis van belydenisskrifte (en daarom nie aan die belydenisgrondslag wil verander nie) behoort dit duidelik te wees hoe ernstig dit sal wees. As ek bely (en daar is nie ‘n dieper manier waarop ‘n Gereformeerde iets kan sê nie), en die kerk sê vir my dat daar nie ruimte is om so te bely nie, watse vrae maak dit oop oor my lidmaatskap van die kerk? Dwing dit my nie tot ‘n diep etiese en teologiese, nee bliksem, ‘n blote sielswroeging voor God, as die kerk vir my sê dat dit waarvan ek oortuig is, nee, nie oortuig is nie, dit wat ek bely, nie bely kan word in hierdie kerk nie?

Al wat gevra word, in my opinie, is dat die kerk my erken. Bevestig net die status quo. Ek is hier, ek bely Belhar, ek wil Belhar bely, sê net vir my dis OK. Om “ja” te stem vir artikel 1 gaan niks verander nie, of nie so baie nie. Dit gaan net bevestig wat reeds daar is, net erken dit wat bestaan. Om “nee” te stem gaan wesenlike implikasies hê, want as ons erns maak met wie ons is, dan kan dit nie anders as om ‘n belydenis te forseer nie.


Nee prof Piet, ons bely vanuit oortuiging

Piet Strauss se artikel vandag wat die stemproses rondom artikel 1 beskryf is belangrik, aangesien daar soveel verwarring bestaan hieroor. Sy interpretasie van die geskiedenis tot dusver is egter op een plek so duidelik in stryd met ‘n ander interpretasie (om dit nou maar ons almal se subjektiwiteit te erken) dat dit duidelik genoem moet word.

Piet Strauss skryf: “Die voorstel spruit daaruit dat die belydenis van Belhar op aandrang van die Verenigende Gereformeerde Kerk nou langer as 20 jaar op die tafel van die NG Kerk lê.

Die probleem is dat hierdie stelling die proses rondom die belydenis van Belhar weereens bloot ‘n stap tot kerkhereniging maak, terwyl die Algemene Sinode oor en oor dit duidelik gemaak het dat ons kies om die belydenis van Belhar te aanvaar omdat ons oortuig is dat dit ook ons belydenis is. Ons formuleer artikel 1 soos wat ons oortuig is dit nou geformuleer moet word (al het dit beteken dat dit anders is as wat die VGKSA sou wou hê).

Meer tegnies het die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland in 2011 met ‘n voorstel na die Algemene Sinode toe gekom dat die belydenis van Belhar aanvaar moet word. Die Algemene Sinode het met meer as 95% van die stemme kyk die oranje kaarte) besluit:

Die Algemene Sinode besluit om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die NG kerk se belydenisgrondslag te maak en dra dit aan die Moderamen op om die nodige kerkordelike prosesse hiervoor in werking te tel.

‘n Voorstel is geformuleer om hieraan gehoor te gee, daar was kommentaar op die voorstel, die voorstel is herformuleer, daar was laataand gesprekke waar ons mekaar gevind het, en uiteindelik het die Algemene Sinode met bykans 100% (indien nie 100% nie) gestem ten gunste van die volgende voorstel:

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.
2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in
2.1.1 die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en
2.1.2 die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.
3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ʼn uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.

Ons bely nie omdat ons deur die VGKSA gedwing word nie. Ons bely nie omdat ons in ‘n hoek gedruk is rondom kerkhereniging nie. Ons word nie deur die VGKSA gedwing om te bely nie, al kan ons nie die belangrike rol van die VGKSA se getuienis teenoor die NGK wegneem nie. Ons is oortuig. Die Algemene Sinode van 2011 was oortuig dat ons wil bely. Die Algemene Sinode van 2013 was oortuig dat ons ook ruimte wil maak vir hulle wat nie Belhar as ‘n belydenis wil aanvaar nie.

Dit is waaruit die voorstel spruit.

Waarvan was ons presies oortuig? Waarom bely ons? Ek het my voorstel vir ‘n antwoord hierop ‘n paar jaar terug gemaak, en ek is steeds gemaklik daarmee.

Prof Piet, dan moet ons nou maar ‘n ander ongemaklike puntjie ook op die tafel sit. Kyk gerus weer hoe praat Nelis van Rensburg en Mary-Anne Plaatjies van Huffel oor belydenisse. As ek hulle reg hoor sê beide dat as Gereformeerdes bely ons altyd sonder dwang. Maar wat Piet Strauss skryf lui:

Die laaste puntjie in die voorstel lui dat daar by die aanvaarding van nuwe belydenisskrifte – anders as die huidige ses wat nie geraak word nie – geen dwang sal wees nie. Nie eens van my eie kerkraad of sinode nie.

Dis ‘n belangrike interpretasievraag waaroor ons sal moet duidelikheid kry. Punt 3 groei uit ‘n spesifieke situasie waar die konsensus by die Algemene Sinode geskuif het na aanvaarding van Belhar, terwyl ‘n klein groepie nie hierdie oortuiging deel nie (kyk weer die fotos van 2011 se stemming). In hierdie spesifieke situasie herinner ons mekaar dat ons mekaar nie gaan dwing om te bely nie. Om hierdie punt egter om te draai en te interpreteer as ‘n herinnering dat ons mekaar wel gaan dwing om Dordt te bely is egter in my opinie nie net buite die gees van die besluit nie, maar mag ‘n teer sakie net dalk op ons agenda dwing – of ons nie maar iewers ons kerkorde moet verander om duidelik te maak dat geen belydenis met dwang onderskryf mag word nie – ook nie die manipulasie dat jy nie ‘n salaris gaan kry nie.

(Hierdie blog post het aanvanklik verkeerdelik die oorspronklike formulering vir artikel 1, i.p.v die formulering wat aanvaar is bevat. Dit is verander om na die korrekte formulering te verwys.)


#NGKerk, kompromie en konsensus

In 2007 het daar twee teenoorstaande verslae en voorstelle rondom die kerk se standpunt oor homoseksualiteit op die tafel gedien. Die sinode kon mekaar nie vind nie, en Malan Nel het voorgestel dat die moderators van die NG Kerk daai aand bymekaarkom om ‘n alternatief voorstel te skryf. Die volgende oggend is hierdie verslag met ongeveer 80% van stemme aanvaar.

In 2011 was Belhar op die tafel. Die sinode moes besluit of daar ‘n proses om Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk aan die gang gesit moes word. Hulle het ja gestem, met slegs 8 teen stemme. Maar die besluit het bitter min konkreet gedoen. Wat dit sou beteken, hoe dit sou gebeur, dit was alles oop gewees. Daar was baie emosie, opgewondenheid.

Toe kom 2013. 2013 dink ek was ‘n sinode wat prosesse aan die gang gesit het. ‘n Proses tot kerkhereniging is goedgekeur. ‘n Proses tot die aanvaarding van Belhar. ‘n Proses om die kerk se standpunt oor homoseksualiteit te wysig. Nie radikaal genoeg vir party nie, maar ek weet nie of ek ‘n radikale Algemene Sinode sou wou hê nie. Maar later meer hieroor.

Baie van ons het dit kompromie-besluite genoem. Die kerkreg mense noem dit konsensus besluit. Ek dink dit is beide. Dit is natuurlik ‘n kompromie. Verskeie mense aan verskillende kante moes kompromieë maak om ‘n voorstel te kry waaroor daar konsensus is. Maar dit is ook konsensus, met ‘n bykans 100% stemming op elkeen van hierdie punte (en meeste ander punte op die sinode ook). Ons het dit gedoen deur teenoorstaande partye met mekaar te laat praat, praat, en weer praat tot hulle ‘n voorstel kon kry waaroor daar konsensus kon wees. Ek vermoed Malan Nel sal na hierdie sinode saamstem dat ons nooit weer aan ‘n groep moderators die taak gaan gee om ‘n konsensus voorstel te kry nie, maar dat ons konsensus kry deur die leiers wat sterk voel oor ‘n saam met mekaar te laat praat. So waaroor het ons konsensus?

Ons het nie konsensus daaroor dat ons almal Belhar gaan onderteken nie, maar ons het konsensus oor hoe die kerkorde moet lyk waarbinne Belhar onderteken word.

Ons het nie konsensus oor presies hoe ‘n herenigde kerk moet lyk of werk nie, maar ons het konsensus dat ons moet herenig en dat ons moet ruimte maak vir die verskillende dele van die kerk om op verskillende maniere deel van een kerk te word.

Ons het definitief nie konsensus oor homoseksualiteit nie, maar ons het konsensus dat ons bestaande besluite nie voldoende is nie, dat daar alternatiewe voorstelle op die tafel moet kom en dat hierdie alternatiewe voorstelle deel van ‘n proses rondom menswaardigheid moet wees (‘n ander proses waar ook oor gender en ras gepraat word, en ons het konsensus dat menswaardigheid belangrik is).

Die 2013 Algemene Sinode het dus konsensus gekry oor baie dinge, maar ons het dit gedoen deur kompromieë aan te gaan, deur verskille toe te laat, deur te weier dat iemand kan wen omdat hulle 51% of 67% op hierdie of daardie punt kry.

Ek hoor van almal wat kwaad is, wat ‘n kerk gesoek het wat baie duideliker standpunt inneem (wat beteken ‘n kerk wat my kant kies). Party vermoed dat ‘n harde Algemene Sinode nog ‘n stuk van die kerk kon afskeur, en ek weet werklik nie of dit die moeite werd sou wees nie. Moet ons werklik die Protestantse geskiedenis van die 19de en 20ste eeu herhaal? Is ons werklik oortuig dat dit goed was dat ons die kerk laat skeur omdat ons mekaar nie kan vind nie? Dit lyk vir my of die Protestantse kerke in Noord Amerika sulke roetes geloop het oor soortgelyke issues, en dan kry jy ‘n blok wie se identiteit gevorm word deurdat hulle weier om te verander, ‘n politieke blok wat alleen is en vashou aan hierdie of daardie verlede (ek moet seker byvoeg jy kry dan ook ‘n politieke blok wat hardloop met idees sonder dat hulle ‘n samelewing met hulle kan saamneem, wat nie meer ‘n inspraak op dele van die samelewing waar die ongeregtighede van die verlede voortduur nie).

Kom ek sê dit blatant: in ons geval loop ons die gevaar om ‘n polities regse denominasie te skep, of ‘n denominasie wat institusioneel oop wetgewing oor homoseksualiteit beveg. Ek dink dit sal sleg wees. Nou sê ons dat ons aan mekaar vashou, en dat ons altyd die moontlikheid oophou dat ons mekaar kan verander. Dit herinner meer aan sekere elemente uit die Rooms Katolieke kerk. Behalwe, ons wil dit doen sonder dat ons ‘n Pous kies. Ons probeer dus die onmoontlike: ons wil een wees al verskil ons radikaal, en ons wil dit doen sonder om ons eenheid in ‘n individu wat ons verteenwoordig te plaas, omdat ons bely dat Christus die enigste hoof van die kerk is.

In die spanninge tussen besluite sien ons tog die rigting waarin die kerk beweeg. In die spanning tussen ‘n Algemene Sinode wat aan die een kant pleit dat Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk moet wees (en wat dus met meer as 95% stemme in 2011 gesê het hulle aanvaar Belhar) maar aan die ander kant aanvaar dat almal nie daarmee saamstem nie, sien ons dat die rigting tog groter aanvaarding van Belhar is (natuurlik sal ons nog moet sien wat maak kerkvergaderinge wanneer hulle moet kies wat hulle met die nuwe keuse in die belydenisgrondslag moet maak).

In die besluite rondom kerkeenheid sien ons die algemene rigting: organiese eenheid. Wat beteken dat ons eenheid op sinode en ringsvlak het, en oor tyd ook op gemeentevlak. Maar deur ruimte te maak dat nie alle sinodes en ringe dadelik hulle eie bestaan opgee nie, sê ons dat ons mense eerder wil oortuig om in die basiese rigting te beweeg as om hulle te forseer (en onthou dat daar beide wit en swart sinodes is wat hiervoor vra) en dalk te laat afstig.

In die spanning oor homoseksualiteit sien ons ook die basiese rigting. ‘n Kerk wat nie weet hoe om haar standpunt finaal te verander nie, maar wat weet dat daar net een rigting is, en dit is al hoe meer inklusief. ‘n Kerk wat kies om te sê ons huidige standpunt oor die status van homoseksuele verhoudings is nie goed genoeg nie, en dit is nie goed genoeg nie want dit onderdruk.

Ek dink nie die Algemene Sinode het baie progressiewe standpunte ingeneem hierdie week nie. As ek die besluite sommer in my persoonlike hoedanigheid moes formuleer, dan sou dit heelwat anders gelyk het. Maar ‘n Algemene Sinode is nie ‘n persoonlike opinie nie. Ek dink nie eens dit is ‘n poging om te sê “wat sê die Bybel” nie. Dit is ‘n messy pragmatiese proses. Individue sou byvoorbeeld ‘n kapitalistiese sisteem verwerp, ‘n Algemene Sinode kan slegs een treë gee in die verdere ondergrawing van hierdie sisteem. Ek het dit ‘n paar keer voor en tydens die sinode gesê: Al wat die Algemene Sinode doen is om te luister waar is ons tans, en te luister wat die volgende treë is wat ons moet gee. Daardie treë is te klein vir party en te groot vir ander.

Ja, die kerk moet profeties wees. En as ek ek dit nou in ‘n redelike nou sin van die woord gebruik, dan sê ek die kerk moet radikaal uitdaag, die kerk moet die onmoontlike sê en dan moet die kerk dit leef ook (ek dink nie die profetiese van die Bybel is alleen dit nie). Die kerk moet seker ook priester wees, en versorg, en dra, en ruimtes skep waar ‘n spiritualiteit wat verandering moontlik maak gevorm kan word. Die kerk het ook sekerlik een of ander regerende rol (en hier verander ek seker die idee van “koningskap” bietjie), om bloot ‘n miljoen mense, of ‘n biljoen as jy die Rooms Katolieke Kerk is, te help organiseer op ‘n manier wat tot groter liefde in hierdie wêreld tot gevolg het. Die een toets vir die NG Kerk is wat ons met die profete tussen ons gaan maak (die groter toets is wat ons met die armes gaan maak, wat ‘n groter prioriteit te blyk wees as Belhar), maar ek dink nie die plek waar ons ooit profesie, in hierdie nou sin van die woord, gaan vind is op die bladsye van ‘n Algemene Sinode se notule nie. Om profesie daarvan te laat afhang mag ons ook net dalk ‘n ticket gee om te vergeet dat dit eintlik ek, en my gemeente, is wat in die volgende twee jaar in wat ek en ons sê en hoe ons en ek leef die ongeregtighede van die verlede en hede, teenoor swart Suid Afrikaners, vroue en gays, moet gaan beveg…

Die toets vir ‘n Algemene Sinode mag nie gereduseer word tot woorde op papier nie. Dit moet gevind word in of dit oor dekades heen (want beleidsbesluite se effek word oor dekades gevind) ‘n rigting aangewys het wat maak dat individue se lewens, en die samelewing as geheel, eenheid, versoening en geregtigheid reflekteer. Dit is wat beleid beteken. En beleid verander ons ongelukkig een treë op ‘n slag.


om saam met die kerk in SA te bely

Ek maak nou nie juis ‘n gewoonte daarvan om die kerkorde te lees voor ek gaan slaap nie. Maar een verandering wat vir die NG Kerk se kerkorde voorgestel word maak my opgewonde:

Die Kerk bely in verbondenheid met die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks die Belydenis van Belhar.

Die een daal van die NG Kerk se naam wat vir my net mooi niks sinmaak nie is daai verwysing na “Nederduits”. Ek besef dat “Gereformeerd” ook maar party dae sy interpretasieprobleme het, maar ek kan tog met tye raaksien dat ek inderdaad duidelik Gereformeerd is, wat dit ookal beteken. Maar “Nederduits” maak net mooi niks sin nie. Eerstens gebruik ons daai woord nêrens anders nie (anders as “Dutch” wat ten minste nog gebruik word). Ek bedoel, niemand praat van die “Nederduitse mense” nie, en sou jy so ‘n opmerking in Afrikaans hoor sal jy seker maar dink dit verwys na NG Kerk mense. Ja great, iewers is daar een of ander historiese band wat 300 jaar of so teruggaan, maar regtigwaar, hoe lank moet dit die woorde wees waarmee ek een stukkie van my identiteit beskryf.

Wanneer ons oor belydenisskrifte praat, dan is dit bykans onvermydelik dat ons in ons agterkoppe die idee het dat ons saam met die kerk in Europa bely. Natuurlik is die belydenis van die Heidelbergse Kategismus ‘n belydenis saam met die kerk in Europa, Noord-Amerika, Afrika, Japan (die plekke wat ek vinnig aan Gereformeerde kerke kan dink), maar dit is Europa wat ons verbeelding vul wanneer ons met ons ander belydenisse werk.

En ek wil nie langer ‘n kerk wees wat in die eerste plek uit Europa kom nie. Ek is bereid om te erken dat ek dit ook is, maar ek wil dit nie die belangrikste merker van my eie kerkwees maak nie. Ek wil saam met die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks bely. Ek wil kerk hier wees.

Dalk is dit deel van ‘n groter struggle van jong wit Suid Afrikaners. Dis alles mooi om te hoor dat “South Africa belongs to all who live in it“. Maar baie van ons beleef in ons lywe dat ons stories oor hoe ons al vir 8 of 12 generasies in hierdie land is eintlik bietjie hol klink. Ja dis waar. Ja daar is geen ander land waar ons kan leef nie. Daar is geen ander plek waar ons wil wees nie. Maar ons weet ook dat as ons werklik wil tuiskom in hierdie plek dan gaan ons ‘n bietjie werk moet doen om deur ons geskiedenis te werk. En ons wil dit doen.

Om in verbondenheid met die kerk in die Suider Afrikaanse konteks te bely (ek sou verkies dat ons net sê “saam met” die kerk in die Suider Afrikaanse konteks, maar ek weet nie of kerkordes sulke kort woorde kan aanvaar nie), om Belhar te vat nie net omdat ek met die inhoud daarvan saamstem nie, maar omdat ek eerstens kerk in Suider Afrika wil wees, en tweedens kerk met wortels in een of ander Europese plek wat “Nederduits” is. Om te bely is nie bloot om in te stem met bepaalde waarhede nie, dit is om deel te word van ‘n bepaalde gemeenskap. In hierdie geval maak belydenis ons o.a deel van die kerk in Suider Afrika.


waarom dan so optimisties oor eenheid en Belhar?

‘n Baie goeie vriendin maak aan die einde van ‘n informele en kleurvolle impromptu stukkie profesie wat ek hier in ons leefarea vanmiddag gepleeg het die opmerking: “sjoe Cobus, jy’s nie gewoonlik so optimisties oor die kerk nie”.

My optimistiese stukkie profesie was gemik op die toekoms van die NG Kerk. Ek moet darem net eers duidelik maak, dit het nie die bou van groot nuwe geboue, die bekering van duisende mense, of die redding van die Afrikaner-volk ingesluit nie. Dit was eenvoudig ‘n prentjie van ‘n kerk wat haar bereid verklaar om te verenig met ander kerke in die Gereformeerde familie. ‘n Prentjie van ‘n kerk wat klein treëtjies aanhou neem om deur haar eie verlede te werk. ‘n Kerk haarself ondubbelsinnig verbind tot eenheid, versoening en geregtigheid.

My standpunte hieroor was nog nooit onduidelik gewees nie. Ek stem daarvoor dat die NG Kerkfamilie verenig, en dat die NG Kerk Belhar as ‘n belydenisskrif aanvaar.

Die feit dat ek egter so super-optimisties is oor so ‘n toekoms vir die kerk is egter dalk nie altyd so onduidelik nie, en duidelik nie altyd so verstaanbaar nie.

Die tyd is dalk gepas om ten minste een van die redes vir my huidige optimiste te noem. 2011 se Algemene Sinode.

Sinodesittings word nie tipies in populêre taal as geestelike of transformerende ervarings beskryf nie. Sinodes word veel eerder beskryf as die plek waar ooms met warm pakke aan met mekaar baklei en debat voer oor hoeveel engele op die punt van ‘n naald kan dans. Dans was bietjie anders by hierdie sinode.

Ek weet nie of ons regtig verwag het dat daar iets drasties gaan gebeur in die NG Kerk se reis met Belhar nie. Ek was by 2007 se Algemene Sinode ook, en die gevoel op die sinodevloer daar was duidelik: die NG Kerk wil van Belhar niks weet nie. Toe ons begin praat by 2011 was daar ook maar stemme wat verskillende standpunte gestel het. Daar was die jeugwerker roerend vertel het oor sy eie reis met Suid Afrika en rassisme, en by sy kerk gepleit het dat hy Belhar nodig het in hierdie reis. Daar was die ouderling wat in geen onduidelike taal weereens aan die sinode verduidelik het dat Belhar bevrydingsteologie is en daarom teen die gesonde Gereformeerde leer is.

Daar was massas stemme buite die sinodesaal wat getweet het en aan hulle kerk gevra het om Belhar te aanvaar. Teen die einde van die debat het ongeveer 3 tweets per sekonde verskyn, en bykans almal van hulle was ten gunste daarvan dat die NG Kerk Belhar aanvaar.

En toe stem die saal. Dit was nie nodig om te tel nie, want die kleurkaarte was duidelik gewees: Die 2011 Algemene Sinode van die NG Kerk soek Belhar. Ons het op fotos later probeer tel, en soos die koerante ook berig het, meer as 95% van die saal het “ja” gestem.

Daar het trane van blydskap gevloei tydens die breuk na hierdie sessie. Daar is gelag. Mense het rondom koffie begin droom oor skuiwe in die kerk.

Natuurlik was die besluit maar klein. Daar was slegs besluit om die proses te begin om Belhar op ‘n kerkordelike wyse deel te maak van die Belydenisgrondslag van die NG Kerk. In die Gereformeerde kerk is dit ‘n stadige proses waar baie rolspelers in ag geneem word. Maar as die meer as 95% stemme van hierdie afvaardiging van predikante en ouderlinge ‘n teken is van waarheen dinge gaan, en as die gees wat geheers het tussen hulle wat deel was van hierdie vergadering iets sê van hierdie kerk, dan is daar rede om optimisties te wees.

Naby die einde van die sinodesitting het die saal saamgesing aan die woorde van Lord of the Dance. Daar was ‘n stuk ekstase in die lug. Ek het iewers agter in die saal gestaan, ek dink langs my pa, en vir hom net gesê: “mens kan nie glo dat dit dieselfde kerk as 30 jaar voor dit is nie”.

Daar is baie ander redes om optimisties te wees. Soos enige iemand wat al kampe gehou het weet, ‘n enkele ervaring dra nie jou spirituele lewe vir ‘n baie lang tyd nie. Maar hierdie was een ervaring wat ek aan wil vashou soos wat die volgende Algemene Sinode naderkom.